Gereformeerde Kerk Plettenbergbaai & Knysna

Geskiedenis – Oorsig

Geskiedkundige Oorsig

Van Toeka tot Nou

Die Gereformeerde Kerk se lidmate woonagtig in Sedgefield, Knysna en Plettenbergbaai was vir baie jare die Oostelike Buitewyke (OBW) van die GK George. Daar is geen eredienste in hierdie gebied gehou nie. Lidmate van die OBW moes dus na George pendel om eredienste te kan bywoon. In 1997 besluit die kerkraad van George om ‘n emerituspredikant te nader om op ‘n kontrakbasis as Hulpdienspredikant die bediening van die OBW te behartig.

Dr. Chris Malan word dan ook die “Dominee” van die OBW. Daar was aanvanklik 1 wyk elk in Sedgefield en Plettenbergbaai en 2 in Knysna. In navolging van George Kerkraad se besluit word eredienste derhalwe gehou in Plettenbergbaai op die 1ste Sondag van die maand en wel in die saal van die NG Kerk te Wittedrift. Die ander Sondae van die maand word die dienste gehou in Knysna in die kerkgebou van die Presbiteriaanse Kerk. Nagmaal is elke kwartaal bedien maar slegs in Knysna. Elk van die wyke het ‘n ouderling en diaken gehad. Hulle moes dan ook na George pendel om vergaderings van die kerkraad en diakonie by te woon.

Dr Malan was woonagtig in Sedgefield en wel in ‘n vakansiehuis wat gehuur was van ‘n lidmaat woonagtig in Gauteng. Die gevolg was dat hy en sy vrou, Anna, elke Desember-Januarie die huis moes verlaat. Hulle het dan ook gedurende die tydperk hulle jaarlikse verlof geneem en dit in Potchefstroom deurgebring. Daar is ook gedurende hierdie vakansietye en ter wille van besoekers, eredienste gehou in Plett en Knysna. Gelukkig was daar genoeg predikante wat in die omgewing kom aftree het of met vakansie in die gebied was sodat daar elke Sondag ‘n erediens was.

Dr. Malan kon maklik pendel na Knysna om eredienste te hou en ook huisbesoek te doen. Dooplidmate van Knysna het na die erediens katkisasielesse ontvang. Plettenbergbaai was egter verder en het hy en sy vrou, Anna, gewoonlik daar by van die lidmate tuis gegaan. Hy het dan ook die Sondagmiddag en Maandagoggend huisbesoek gedoen en Maandagmiddag katkisasielesse gegee aan die dooplidmate. Dinsdagoggend was dit Bybelstudie by een van die lidmate se huis en daarna het hulle teruggekeer na hul tuiste in Sedgefield.

Die OBW het heelwat nuwe intrekkers (lidmate) bygekry en veral Plettenbergbaai het in lidmaatgetalle aansienlik gegroei. (Plett het nou 3 wyke gehad). Op versoek van die lidmate woonagtig te Plettenbergbaai is daar toe besluit om eredienste op die 1ste en 3de Sondag van die maand te Plettenbergbaai te hou en die 2de en 4de ( en ook die 5de) Sondag van die maand in Knysna. Nagmaal het nou gewissel tussen Plett en Knysna. Weldra het daar ook by die kerkraadslede van die OBW die behoefte onstaan om op hulle eie te vergader en dan terug te rapporteer aan die kerkraad van George. So ook die behoefte om hulle eie finansies te hanteer. Die kerkraad van George het hierdie behoefte erken en toestemming verleen dat die OBW een keer ‘n kwartaal kan vergader en wel die maande wanneer nagmaal gevier word. Die OBW het toe ook hulle eie finansies begin hanteer. In hierdie verband is dit nodig om te vermeld dat veral die Plettlidmate reeds sedert 1998 begin het met funksies om fondse in te samel. Met die instemming van George Kerkraad het hulle ‘n spaarrekening gehad waarin die kontantopbrengste uit die funksies inbetaal is.

Daar was tot voor 2006 geen sprake van eie gemeente stig nie maar die gedagte daaraan het meer en meer begin groei by van die lidmate van die OBW. Intussen besluit dr. Malan dat dit tyd is om finaal halt te roep en nie sy kontrak te verleng nie aangesien hy toe reeds diep in die sewentig was. Dr. Frans de Bruyn word met die vertrek van dr. Malan, ook op ‘n kontrakbasis deur GK George aangestel om die OBW te bedien. Dit is dan ook in sy bedieningstyd dat die stigting van ‘n eie gemeente meer as net ‘n gedagte geword het. Die feit dat die OBW met ‘n eie “kerkraad en finansies” reeds redelik outonoom kon figureer, het ook stimulus gegee vir die OBW om George te nader met die versoek om hulle eie gemeente te stig. So het die Gereformeerde Kerk Plettenbergbaai/Knysna in 2007 as ‘n selfstandige gemeente totstand gekom. Met afstigting was daar 107 belydend- en 11 dooplidmate. (Aanvanklik was die gemeente bekend as die GK Eden. Daar was op hierdie naam besluit omdat die gemeente binne die gebied van die Tuinroete van die Wes-Kaap geleë is en die gebied ook bekend is as ons eie “Tuin van Eden”.) Die Gereformeerde Kerk Eden word in 2006 ‘n selfstandige gemeente. Dr Frans de Bruyn se kontrak met GK George word deur GK Eden oorgeneem en hy word die eerste leraar van hierdie gemeente.

Na afstigting gaan eredienste nog steeds voort soos voorheen in Knysna en Plettenbergbaai. Nie lank na afstigting nie kry die gemeente kennis van die NG Kerk Wittedrift dat hulle die saal benodig vir eie doeleindes en verskuif eredienste te Plett na die saal van die Anglikaanse Kerk in Plett se middedorp. Nie lank daarna kry die Kerkraad ook kennis van die Presbiteriaanse Kerk in Knysna dat eredienste aldaar se aanvangstyd verskuif moet word van 11h15 na 11h45. Die aanvanklike tyd van 11h15 was reeds problematies vir lidmate wat van veraf moes reis. Na baie soek word toestemming verkry dat eredienste om 10h30 in die gebou van die NG Kerk Knysna gehou kon word.

Na ‘n paar jaar besluit dr. Frans de Bruyn aan die einde van 2008 om nie sy kontrak met GK Eden te hernu nie en hy vertrek na elders. Vir eers word daar gebruik gemaak van predikante wat in die Tuinroete se gebied woon om eredienste Sondae te Plett en Knysna te hou. Met die Here se genade was daar altyd ‘n predikant beskikbaar! Hoewel die gemeente se groei begin taan het, was dit weldra duidelik dat die dienste van ‘n voltydse leraar benodig word.

Die voorsienigheid van die Here word skielik duidelik. Ds Emile Naude, deeltydse predikant van die NG Kerk te Plettenbergbaai, het ook ‘n besigheid bedryf wat hy in 2008 verkoop het. Hy was baie ywerig om weer voltyds tot die bediening toe te tree. (Sy vrou Sanet was tot voor hulle troue ‘n Dopper!) Die Kerkraad nader hom om die bediening van die GK Eden op ‘n kontrakbasis waar te neem en na die afhandeling van al die nodige administratiewe prosesse word hy in 2008 die Hulpdienspredikant van die GK Eden. Gou besef hy egter, dat daar by hom ‘n ernstige behoefte is om predikant van die Gereformeerde Kerke van SA (GKSA) te word. Hy voltooi suksesvol al die nodige prosesse en/of eksamens en word in September 2009 beroepbaar gestel as Proponent van die GKSA. Hy word dan ook beroep deur GK Eden en bevestig in die gemeente in November 2009. Hy het met groot ywer gewerk in die gemeente en daar was gehoop dat daar nuwe lidmate by die gemeente sou aansluit.

Die geweldige ekonomiese insinking wat SA in 2008 en daarna beleef het, het ‘n besliste uitwerking gehad op die migrasie van mense na die Tuinroete. Inteendeel, van die ouer lidmate het om finansiële redes getrek na ander goedkoper areas. In plaas van groei in lidmaatgetalle het die gemeente kleiner geword. Dit het druk op die finansies van die gemeente geplaas siende ook dat ‘n predikant nou voltyds in die bediening gestaan het. Om hierdie rede besluit die gemeente om ‘n jaarlikse “Vleisfees” te hou om sodoende die kerk se inkomste aan te vul. Die 1ste Vleisfees word in 2008 gehou op die terrein van die NG Kerk Plettenbergbaai. Dit was ‘n belewenis om te sien hoe so ‘n klein gemeente ‘n fees van so ‘n omvang kon aanbied. Almal en selfs die lidmate wat skaars kon beweeg, het bygedra tot die sukses van die geleentheid. Hierdie fees word nog elke jaar aangebied maar het intussen verskuif na die terrein van die Gemeenskapsaal in Plettenbergbaai.

In 2015 ontvang ds Emile Naude ‘n beroep van die GK Boksburg-Suid wat hy aanvaar en vetrek derhalwe uit die gemeente. ‘n Ruk na die vertrek van ds Naude ontvang die gemeente ‘n besoek van die Visitatore. In hulle verslag meld hulle dat die gemeente ondersoek moet instel na die wenslikheid om net 1 plek van samekoms te gebruik vir eredienste. Derhalwe besluit die kerkraad na oorlegpleging met die lidmate, dat eredienste slegs in Plett gehou sal word. Die gevolg was dat die lidmate woonagtig in Sedgefield besluit om, as gevolg van afstand, by die GK George in te skakel. Van die lidmate woonagtig in Knysna het vir dieselfde rede oorgegaan na die NG Kerk in Knysna.

Die grootte van die gemeente en die bekostigbaarheid(finansies) was baie beperkend op die keuse van predikante om te beroep. Daar was ook nie Hulpdienspredikante beskikbaar nie. Nogtans kon die gemeente ‘n beroep uitbring maar dit is nie aanvaar nie. Gevolglik besluit die kerkraad om die dienste van ‘n emerituspredikant van die NG Kerk te gebruik. Weer word die nodige prosesse gevolg en ds Geo Knoetze is in 2016 gekontrakteer om as Hulpdienspredikant die gemeente te bedien. In 2018 deel ds Knoetze die kerkraad mee dat hy besluit het om te verhuis en nie meer met sy pligte as Hulpdienspredikant sal kan voortgaan nie. Weer word die kerkraad voor die keuse gestel om te beroep of nie. Na deeglike ondersoek besluit die kerkraad om ds Braam van der Walt, predikant van GK Lichtenburg te beroep. Hy aanvaar die beroep en word bevestig in die GK Eden in November 2018.
Johannes van der Walt