7 Maart

EREDIENS

Ons het D.V. weer op Sondag 7 Maart die voorreg om ‘n erediens in die Melkweg kerkie te hê. Die diens sal ook vanaf 10h00 lewendig op Facebook uitgesaai word.

Algemeen:

  • Docenda vergadering: Die vergadering wat aanvanklik vir 23 Januarie beplan was, vind nou op Saterdagoggend, 1 Mei van 9:00 tot 12:00 in die Gereformeerde Kerk Mosselbaai plaas. Navrae by Prof Flip Buys.
  • Webtuiste: Gaan loer gerus in by ons nuwe webtuiste: pantarei.co.za/ Gereformeerde Kerk Plett/Knysna.
  • Bybels: Daar is ‘n groot uitverkoping (1Maart – 30 Junie 2021) van Engelse Bybels Good News Translation teen R43 elk. Dit is ‘n maklike Engelse vertaling en is perfek vir jonger lesers en tweede taalsprekers. Daar is ‘n ingeslote boekie: Help! How should I read my Bible. Dit is ‘n mediumgrootte Bybel met volkleur sagteband en kantaantekeninge. E-pos: sales@biblesociety.co.za of besoek die aanlynwinkel. Navrae by Corrie Pieterse.
  • Kinderhoekie: Katkisasie het begin en al die kinders is baie opgewonde. Sommige sit lekker op die gras en ander in die kerk, maar dit lyk asof elke klein lidmaatjie dit baie geniet. Vier inkleurboeke is as geskenk ontvang en kryt sal aangekoop word sodat ons jong kunstenaars kan oefen om ‘n nuwe Alvira te word. Vir die groter kinders is daar Slingervelle wat hulle by die kerk kan lees of huistoe kan neem. Ons sê baie dankie aan al die kategete wat
    soveel moeite doen en die klassies met entoesiasme aanbied.
  • Van die Kerkraad se tafel: Ds Braam en Alvira is vir twee weke met verlof. Hy moet vriende van hulle gaan trou, daarna gaan hulle plaas toe vir ‘n welverdiende ruskans en sodat Alvira se voet heeltemal kan herstel. Prof. Flip
    Buys van Mosselbaai sal Sondag die erediens lei. Hy is ‘n ou bekende en ons verwelkom hom graag hier by ons. Die Kerkraad het ‘n komitee aangewys om na die instandhoudingswerk van die kerk om te sien. Indien lidmate voorstelle wil indien ter verbetering van ons mooi kerkie, kan hulle met Basjan of Glint skakel. Elke voorstel is baie welkom.
  • Dankie: Ons sê baie dankie aan Irma Krog wat kussings vir die “harde” stoele gemaak het. Dankie, Irma, nou kan ons lekker sag sit en mooi luister.
  • Welkom: Ons verwelkom vir Dawie Botha terug in ons gemeente. Dawie was vir ‘n geruime tyd in George omgewing en is nou weer terug by ons. Baie welkom, Dawie. Ons is ook bly om ‘n nuwe jong lidmaat, Lené Kruger, van Potgietersrus te verwelkom. Sy kom studeer by Equine Librium saam met Shané Blignaut en Diané. Lené, ons sê baie welkom en vertrou dat jy die drie jaar hier by ons sal geniet.

Nuwe Covid regulasies:

  • Die beperking op alle byeenkomste binnenshuis is nou 100 en 250 buitenshuis.
  • Dit kortwiek die hou van verkopings. Anders as bv. ‘n mark wat geregistreer is as ‘n handelskompleks word ‘n kerkverkoping op die kerkterrein gesien as ‘n “gathering”.
  • Huwelike kan nou weer geregistreer word.
  • Daar is nie ‘n beperking op huisbesoek nie, onderhewig aan die normale protokol. Besoeke in hospitale en ouetehuise is onderworpe aan die inrigting se huishoudelike reëls.
  • Die aandklokreël skop nou eers om 12 uur saans in tot 4:00

MEELEWING

Baie sterkte aan almal wat siek is, tuis of in ‘n hospitaal. Ons gebed is dat almal krag en genesing van Bo sal ontvang. Christa Boshoff gaan hierdie week hospitaal toe. Ons bid dat jy ook volkome genesing sal ontvang

GELUKWENSING

Gert Kruger, 3 Maart

Gert is een van ons lidmate wat van die begin deel was van hierdie gemeente. Hy ken die geskiedenis van die ontstaan van die gemeente. Baie geluk, Gert. Mag jy hierdie jaar God se seën in oorvloed ervaar. Mag Hy jou toevou met sy genade en jou krag gee om hierdie nuwe lewensjaar tot sy eer te geniet.

’n Jonger weergawe van Gert en Sally tydens ‘n gemeente-byeenkoms.

Here my God

Die natuurdinge wys dat die hoogsomer aan die verbygaan is, Maar ook in die verbygaan is genieting,

Want dit skep die herinneringe wat bly.

Leer my om my dae te waardeer, elkeen.

Wanneer ek deur u Bybel blaai,

Praat stemme van baie lank gelede met my;

Stemme van mense wat verbygegaan het,

Maar nog steeds leer en troos;

Stemme van Moses en u volk;

Stemme van Jesus en sy dissipels;

Stemme van geloof en ongeloof.

Dit vul my met ontsag en verwondering
Oor hoeveel dinge verander het, modes en gewoontes,

Maar hoe die mens nog altyd dieselfde bly.

Ons het ‘n Redder nodig.

Ons het U elke dag nodig,

Want elke tree wat ons gee, is verby,
En elke asemskep wanneer ons dit uitblaas.

Ons is nie veel meer as ‘n asemskep in die ewigheid nie.

Maar tog is ons vir U so kosbaar dat U vir ons kom leer het Deur u mense, en wonderlik deur u Seun,

En veral nou deur die werking van u Gees,

En ons heilig om ander te heilig.

Daarvoor dank ek U.

Amen Izak de Villiers

ONS EIE SKILDER,
ALVIRA VAN DER WALT

Enkele gedagtes uit ‘n preek gelewer deur dr Pieter Bingle op 20 November 2005 oor RSG:

Vyf saakmakende momente (sekondes) van die lewe… Sekondes is ‘n stukkie gekapte tyd uit die ewigheid.

1. Die eerste sekonde van jou tyd (Ps 139:14-16)
My eerste sekonde (al besef ek dit nog nie) kondig aan dat hoe my verdere sekondes ook al gaan verloop, dat iewers in die ontvouing van God se raadsplan ek sy instrument gaan wees.

2. Die laaste sekonde van jou tyd (1Kor 15)
Jou doodsberig. My lewe word nie begrens deur die twee historiese datums van my geboortedag en my sterfdag nie. God se raadsplan met my is nie vasgevang in die sirkeltyd van ‘n horlosie of in die uitskeurbladsye van ‘n kalender nie. Uiteindelik sal die kalenderdae van ons lewe volloop, maar nooit ooit word dit uitgeskeur uit God se ewigheidskalender nie. Daarom word ons by afsterwe nie geskiedenis nie. Jou laaste sekonde by afsterwe is dus nie dié laaste nie. Dit is maar pas die begin – begin van ewige vreugde en ewige lewe of ewige smart en ewige verlorenheid. Die beslissing en skei-ding van die weë val in die sekonde van hierdie lewe. Die teerling en lotsbeslissing word gewerp rondom die vraag: Wie is Christus in jou lewe?

3. Die laaste sekonde van dié tyd (Openbaring 20:12)
Daar kom ‘n dag dat alle horlosies sal gaan staan. Dit is wanneer die laaste sekonde van die laaste dag aanbreek en die oordeel voltrek word. Ons is elkeen ‘n skrywer wat elke dag besig is om ‘n boek te skrywe, nie met pen en ink nie, nie op papier nie. Elke dag skryf ons ons eie outobiografie, my eie lewensverhaal God se môre begin vandag. So skuif die toekoms die hede in, want wat môre en die laaste sekonde met jou gaan gebeur, word in die sekondes van vandag en elke dag beslis. Dit is die geweldige appél op ons elkeen: Dink wat jy doen. Jou lewe speel elkeda g voor God af. Die ryk genade van God is dat in die laaste sekonde van die tyd ook ‘n ander boek oopgemaak word – die Boek van die Lewe!

4. Die ewige sekondes (2 Pet 3:13)
God is met sy skepping op weg na die voleinding – op weg, nie na ‘n utopie nie, ‘n geen-plek nie, maar na ‘n eutopie, ‘n goeieplek, ‘n nuwe skepping. Die belofte van die voleinding moet die werklikheid van elke dag stimuleer en dirigeer. Die effek van die Christelike toekomsverwagting is daarom nie wêreldvermyding wat die aandag van die wêreld wegtrek nie, maar wêreldwyding en wêreldtoewyding wat aan die lewe heiliging, veredeling en heling toevoeg. Die voleinding het nie ‘n einde nie. Dit is oop – oneindig oop, daarom sodra dit gedefinieer is, sal dit elke keer ook weer geïnfinieer moet word (ontgrens, oopmaak). Die voleinding is ad infinitum.

5. Die sekondes van elke dag
Die toekomsverwagting en toekomshoop maak van die lewe nie net ‘n wagkamer nie, maar ook ‘n werkkamer. Die verwagting van die toekomshoop blom en kweek in die lewenstuin van die gelowige ‘n verskeidenheid kultivars van hoop. Die lewenspraktyk is nie maar net ‘n addendum met ‘n blindedermstatus of ‘n naskriffie nie. Die waarheid wat in Christus geopenbaar is, betoon sy krag en effektiwiteit in dade (Jak 2:17, Heb 12:14). Die voleinding gryp in op die etiek van die lewe.Daarom moet dit dreun en zoem in die werkswinkel van die lewe. Van ewige lewensbelang is die vraag na die sekondes van elke dag!

  • Staan dit op die bladsye van my lewensboek geskrywe dat ek in Hom, die Skrywer van die Boek van die Lewe, glo?
  • Staan dit op die bladsye van my lewensverhaal dat ek elke dag gelewe het vanuit die genade van die Here?
  • Is dit in woorde en dade aangeteken in my lewensboek dat ek elke dag gelewe het in ‘n lewende verhouding met God my Vader?
  • Staan dit geskrywe dat ek my laat lei het deur God die Heilige Gees? Seënwense vir die skryf van u outobiografie. Onthou elke dag: wat geskryf staan, is geskrywe. Onthou: God se môre begin in die sekondes van elke dag!