EREDIENS
Die Getuie, 30 Mei 2021
Op Sondag, 30 Mei 2021, om 10 uur is daar weer ‘n erediens in die Melkweg kerk. Die diens word gelei deur ds Braam van der Walt.
Diensbeurt: Plett 3
Ouderling: Jaco Theunissen
Diaken: Ena Theunissen
Kollekte: GKSA Sustentasie
Spesiale kollekte: Instandhouding
Katkisasie: Geen katkisasie as gevolg van die Nagmaal.
Preek Sondag: Hooglied 4: 1-17
Fokusvers vs. 7
Nagmaal is die liefdeslied van jou Bruidegom.
Bybelstudie Knysna: Bybelstudie op Maandag, 31 Mei om 18:00 by Monica Venter, Circular Rylaan, 56, Paradise, Knysna.
⦁ Vergadering
Almal word herinner aan die gemeente-vergadering na afloop van die erediens.
⦁ Uitnodiging
Almal word uitgenooi om na die erediens saam te braai by Kerkstraat 1. Bring u eie vleis, iets te drinke, eie eetgerei en stoele.
⦁ Meelewing
Baie sterkte aan almal wat siek is, tuis of in die hospitaal, hartseer beleef of swaardra aan bekommernis. Ons dra almal op aan die liefde en genade van ons Almagtige Vader.
⦁ Gelukwensing
⦁ Doop: Maria, dogtertjie van Tom en Tonja van Zyl word vanoggend gedoop. Baie geluk. Die doop is ‘n bevestiging dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met haar sal oprig.
Ons wens graag die volgende lidmate geluk met hulle verjaarsdae:
25 Mei: Tom van Zyl
26 Mei: Marieke Brauer
27 Mei: Jani Schmidt
27 Mei Dpl. Bea van Zyl en Dpl. Mart van Zyl
27 Mei: Piet Serfontein
29 Mei: Ronelle Pieterse
Mag hulle in hierdie nuwe lewensjaar vasgehou word deur ons Vader, ryklik gevul word met die Heilige Gees en geanker wees in ons Leidsman, Jesus Christus.
Bybels Wêreldwyd
Dit is bemoedigend dat ondanks die chaos wat Covid-19 wêreldwyd tot gevolg gehad het, Bybelgenootskappe regoor die wêreld in die afgelope jaar steeds daarin kon slaag om Bybels en Bybelgedeeltes in 66 tale, wat deur 707 miljoen mense gebruik word, bekend te stel. Dit is deur God se genade dat soveel meer mense nou toegang tot sy Woord in hul moedertaal het. Verskeie groot mylpale is ook behaal. Dit sluit in 46 tale wat vir die eerste keer ’n Bybel of Bybelgedeelte ontvang het en wat die potensiaal het om 13 miljoen mense te bereik. Vyf taalgroepe in Afrika kon ook die verskyning van die volledige Bybel in hul taal vier.
Die sesde volledige Bybel wat bekendgestel is, was vir die dowe gemeenskap in die Verenigde State van Amerika. Dit is die eerste Bybel in Gebaretaal in die wêreld om die lig te sien. Daar is sowat 400 Gebaretale wat wêreldwyd gepraat word. Met hierdie nuwe Bybel kan ongeveer 408 000 mense die Woord van God in hul hartstaal ervaar. Nuwe Testamente in 11 tale wat deur vier miljoen mense gepraat word, is ook gepubliseer. Twee van die publikasies is deur die Bybelgenootskap van Nigerië uitgegee. Bybelvertalingswerk het nuwe hoogtes bereik toe tale wat oor ’n volledige Bybel beskik in Augustus 2020 die 700-merk verbygesteek het.
Bybelgenootskappe het ook nuwe vertalings of hersienings van die Bybel in 21 tale bekendgestel. Twee van die vertalings was in twee van ons amptelike tale: isiZulu (Ibhayibheli Elingcwele: Isihumusho sowe-2020) en Afrikaans (Die Bybel: 2020-vertaling). Aan die begin van 2021 was volledige Bybels in 704 tale beskikbaar wat deur 5,7 miljard mense gepraat word. ’n Verdere 825 miljoen mense het die Nuwe Testament in hul hartstaal ontvang terwyl 450 miljoen mense nou Bybelgedeeltes in hul tale het.
Hoeveel mense het Bybels en Bybelgedeeltes in hulle taal?
Bybels: 5,7 miljard
Nuwe Testamente: 825 miljoen
Bybelgedeeltes: 450 miljoen
Geen Bybels of Bybelgedeeltes: 254 miljoen
Hoeveel tale beskik oor Bybels en Bybelgedeeltes?
Bybels: 704
Nuwe Testamente: 1 571
Bybelgedeeltes: 1 160
Geen Bybels of Bybelgedeeltes: 3 924
Totale
Totale aantal sprekers het Bybels en Bybelgedeeltes in hulle taal: 7,2 miljard
Totale aantal tale wat oor Bybels en Bybelgedeeltes beskik: 7 359
⦁ Boufonds – Sitplekke in die kerkgebou
Sommer net ‘n interessante stukkie geskiedenis:
Op 19 Mei 1894 het die Colesberg gemeente o.l.v. ds. L.J. du Plessis besluit om sitplekgeld af te skaf.
‘n Saak wat vir die Kerkraad van Colesberg oneindig probleme gegee het, was die betaling van sitplekgelde deur die lidmate. Die besluit is geneem dat die banke vir die kerkgebou betaal moes word deur die sitplekke aan lidmate te verhuur. Die Kerkraad moes aanhoudend aandag gee aan gelde wat agterstallig was en daaruit het verskillende probleme ontstaan. Hierdie gesukkel het voortgeduur totdat besluit is om geen sitplekgeld meer te hef nie. Die lidmate kon nog vaste sitplekke kry, maar hoef nie meer daarvoor te betaal het nie.
Kontakbesonderhede Gereformeerde Kerk Plett/Knysna:
- Ds Braam van der Walt. braamvdwalt61@gmail.com Sel: 082 779 0354
- Skriba: Corrie Pieterse. corrie@tsitotal.co.za Sel: 082 452 3363
- Voorsitter Finansies: André Korsten. andre@africanaffair.net Sel: 082 782 9626
- Bankbesonderhede: Nedbank. Rekeningnommer: 118 435 3514