EREDIENS
Sondag, 28 Maart, sal daar weer om 10 uur ‘n erediens in die Melkweg kerkie wees. Die erediens sal gelei word deur ds Braam van der Walt.
Diensbeurt: Plett 2
Die ouderlinge besoek hierdie week alle lidmate met die oog op die begroting
GAAN MET GOD
Die lied: Gaan met God word in Nederland aan die einde van ‘n erediens gesing as ‘n seënbede. Ds Braam van der Walt het dit vertaal. Ons gemeente kan dit dalk oorweeg om dit ook aan die einde van ons eredienste te sing. Dis ‘n baie maklike melodie wat aan almal bekend is.
1. Gaan met God en Hy sal met u wees;
Jou naby op al jou weë
Met sy raad en troos en seën.
Gaan met God en Hy sal met u wees.
2. Gaan met God en Hy sal met u wees;
By gevaar en bange tye
Oor jou sy vleuels sprei.
Gaan met God en Hy sal by u wees.
3. Gaan met God en Hy sal met u wees;
Tot ons weer mekaar ontmoet
In sy naam mekaar begroet.
Gaan met God en Hy sal met u wees.
MEELEWING
Baie sterkte aan almal wat siek is, tuis of in die hospitaal, hartseer beleef of swaardra aan bekommernis. Ons dra almal op aan die liefde en genade van ons Almagtige Vader.
GELUKWENSING
Baie geluk aan Lena van den Berg wat op 28 Maart haar 84e verjaarsdag vier. Ons bid haar die seën van die Here toe. Mag Hy haar omvou met sy wonderlike liefde en haar met sy Gees vervul. Saam met die gemeente sing ons vir haar die bede van Ps 134
Scriptura ( www.scriptura.co.za)
Scriptura is ‘n groeiende biblioteek van Gereformeerde artikels, dokumente en podsendings met 2 Tim. 3:16, 17 as fokus- en vertrekpunt. “Ons wil die Skrif laat spreek oor gebeure, idees en verskynsels in die kerk en samelewing. Ons poog om onsself, ons lesers en ons luisteraars toe te rus vir elke goeie werk deur vanuit die Skrif te leer, weerlê, reg te wys en te onderrig in die geregtigheid.”
Die verskillende artikels, blogs en podsendings word in 4 dele gekatagoriseer:
Lering: Dit het te make met leerstellings in die Bybel.
Weerlegging: Dit verwys na die daadwerklike uitwys en regwys van verkeerde leerstellings en /of sondige leefstyle.
Teregwysing: Hier word gekonsentreer op die Gereformeerde etiek.
Onderwysing: Die lees- en luisterstof is gerig op ons heiligmaking en Christelike lewe.
Die nuutste Radio Scriptura Episode handel oor die verskillende ampte in die kerk.
‘n Vorige gewilde episode: Wanneer ontvang ek die Heilige Gees?
Die sondaar dominee
Weet jy wie jou dominee is? Nie wat is sy naam nie, nie hoe groot is die pastorie nie, nie hoeveel privaat kilo’s sit hy op sy ampsmotor nie. Ken jy jou dominee? Sy worstelinge, sy bekommernisse en sy seer…
Hierdie geroepene is deur God geroep – hy is nie aangestel nie, hy het nie die beste onderhoud nie, sy CV praat nie die hardste nie. Die Lewende God het hom geroep.
Maar hy is ook ‘n mens. Sy mensheid kom gereeld navore. Hy maak foute. Die hoë standaarde waaraan hy moet voldoen voel ook dikwels ver en onbereikbaar. Hy word ook kwaad, sy kinders word ook siek en sy kar breek ook.
Ongelukkig is daar ander foute wat hy maak – daardie enkele minute wat hy te laat is by ‘n sterfbed, daardie oproep wat hy gemis het omdat hy by huisbesoek was, die feit dat hy nie geweet het dat jy siek was nie omdat jy nie laat weet het nie. Verander dit wie hy is? Verander dit die feit dat hy steeds deur die Lewende God geroep word?
Hy worstel ook met sonde, hy is tog “maar net ‘n mens”.
Maar is hy “net ‘n mens” wanneer hy nie aan jou standaarde voldoen nie, wanneer hy die ongewilde, tog regte ding, sê?
Ek vra nie simpatie nie. Ek vra vir voorbidding. Voorbidding vir elke predikant. Vir daardie dominee in die groot stadsgemeente wat sukkel om by almal uit te kom en meer in verkeer vassit as wat hy kan preekskryf, vir daardie dominee by die kwynende plaasdorpie wat wonder of daar volgende maand nog ‘n gemeente gaan wees, vir daardie predikant wat vanaand ‘n moeilike pastorale saak moet gaan hanteer, vir daardie dominee wat more oggend ‘n kindjie moet gaan begrawe, vir daardie predikant wat worstel met sy roepingsbesef, vir daardie predikant wat sukkel
om bediening en huwelik te balanseer, vir daardie predikant wat moet gaan bedien waar ‘n plaasmoord gisteraand plaasgevind het en hy die seer en die haat moet gaan aanskou, vir daardie predikant waar die industrie vir die laaste keer sy deur gesluit het en werkloosheid eksponensieel toeneem, vir elke predikant in sy unieke
roeping in unieke omstandighede…
As ek vanaand by die huis kom en my dominee baadjie uittrek en oor die
stoel in die kamer ophang, bid ek ook “Here, wees my sondaar genadig.”
(Geskryf deur ds Peter Venter – predikant van GK Hoëveld eMalahleni.)
Ds Peter Venter