EREDIENS
Op Sondag, 16 Mei 2021, om 10 uur is daar weer ‘n erediens in die Melkweg kerk. Die diens word gelei deur ds Braam van der Walt.
Diensbeurt: Plett 1
Ouderling: Vakant
Diaken: Bets Fourie
Kollekte: Diakonale Kas
Teol. Studente Kas 2
Katkisasie: Katkisasie direk na die erediens: Les 9
Preek Sondag: Hosea 11: 1-11 (vs. 8)
Raak bewus van God se liefde in jou lewe en lewe vir Hom.
Bybelstudie Knysna: Bybelstudie om 18:00 by Christine van Tonder, Life Style Estate, 26, Welbedacht.
Onderhoud
Die volgende onderhoud van die redakteur van Die Kerkblad op Pta FM word op 16 Mei 2021 om 7:45 uitgesaai. Luisteraars kan inskakel op 104.2/106.6 MHz of TV oudiokanaal 887.
Meelewing
Baie sterkte aan almal wat siek is, tuis of in die hospitaal, hartseer beleef of swaardra aan bekommernis. Ons dra almal op aan die liefde en genade van ons Almagtige Vader.
Gelukwensing
Hierdie week wens ons baie graag vir Alvira van der Walt geluk met haar verjaarsdag op Woensdag, 19 Mei. Mag sy Gods rykste seën, liefde, genade en vreugde in hierdie nuwe lewensjaar ontvang. Baie dankie ook vir al die baie opofferings as predikantsvrou en die leiding wat sy in ons gemeente neem. Ons waardeer haar vriendelike glimlag, meelewing en besoeke. Haar spontane hartlikheid is vir ons almal ‘n voorbeeld.
⦁ MELKWEG KERK : Samesprekings met NG-kerk
Inleiding
Op Dinsdag, 11 Mei 2021, het ‘n afvaardiging van die Gereformeerde Kerk Plett/Knysna met ds. Francois Cilliers van Plettenbergbaai NG-kerk vergader. In die kontrak tussen die twee gemeentes is die Gereformeerde lidmate verantwoordelik om jaarliks verslag te doen en die huurgeld te verreken ingevolge die gebruik van die Melkweg Kerk.
Sake van belang
Die volgende besprekingspunte het gedien:
⦁ Jaarverslag: ‘n Jaarverslag oor die benutting en opgradering van die kerkgebou is bespreek en ingehandig vir voorlegging aan die NG-Kerkraad.
⦁ Nuwe verandering aan die Melkweg kerkgebou: Daar is sterk aanduidings dat die huidige gebou vinnig te klein word vir die Gereformeerde Kerk Plett/Knysna se snelgroeiende lidmate-tal. Die moontlikheid om die binne-ruimte ietwat te verander ten einde die spasie optimaal te benut, is bespreek. Dit sal meebring dat die kansel na die suide-kant verskuif en die stoele omgedraai word. Sodoende word die verhoog oopgestel vir nog ‘n aantal stoele en die agterste kamer kan dan gebruik word vir moeders met kleuters. Dit sal beteken dat die huidige ingangsdeur aan die suide-kant toegemaak sal word en die sydeure sal dien as ingangsdeure na die kerk. Sodoende kan daar moontlik nog 30 stoele geakkommodeer word op die verhoog wat dan sal dien as ‘n tipe “galery” om vir die agterste lidmate meer sigbaarheid te verskaf.
⦁ Begraafplaas: Die Begraafplaas verdien dringende aandag en GK Plett/Knysna het aanbeveel dat die saak indringend bespreek moet word. Die geskrewe ooreenkoms bepaal dat GK Plett/Knysna slegs verantwoordelik is vir die skoonmaak tussen die grafte. Die NG- Kerk moet die bestuur en instandhouding van die grafte hanteer. Hierdie aanbeveling sal deur die NG-Kerkraad bespreek word vir terugvoering so spoedig moontlik.
⦁ Saal: Basjan Hattingh het ‘n stoor, dak en pilare geskenk vir moontlike oprigting langs die kerk. Dit sal as ‘n saal dien waar funksies aangebied kan word. Beginsel-goedkeuring is versoek van die Kerkraad van die NG-gemeente waarna ‘n projekbestuursplan opgestel sal word.
⦁ BOUFONDS
Uit bogenoemde is dit duidelik dat daar dringend aandag gegee sal moet word aan die opgradering van die Melkweg Kerk. Aangesien die Kerkraad nie tans oor reserwe fondse beskik nie, wil ons graag ‘n versoek rig tot die gemeente om ‘n bou-fonds te help stig. Verskeie lidmate het aangedui dat hulle graag met skenkings en dalk arbeid wil help. Ten einde die fonds regmatig te struktureer, versoek die Kerkraad as volg:
⦁ Skenkings van kontant kan u in ‘n koevert Sondae in die kollekte-sakkie plaas, of indien u inbetalings in die gemeente se rekening wil doen, stipuleer asseblief dat dit spesifiek vir die boufonds aangewend moet word.
⦁ Lidmate wat nie in staat is om kontant te gee nie, kan help met die instandhouding van die terrein en gebou. Weereens kan u u naam op ‘n koevert skryf en in die kollekte-sakkie plaas. Die Boukommissie sal met u in verbinding tree.
⦁ André Korsten sal die fonds administreer en die Boukommissie sal die werkers doelmatig aanwend.
⦁ Verslag oor die vordering van die projek sal weekliks in Die Getuie verskyn.
Ons vertrou dat u hierdie projek sal ondersteun sodat ons kan trots wees op dit wat die HERE vir ons gegee het.
Corrie Pieterse André Korsten 11 Mei 2021
⦁ Die Groot Altaar in Pergamum
Pergamum, wat vandag bekend is as Bergama en in Turkye op die oewer van die Kaikus rivier geleë is, was in die westelike deel van Klein-Asië. Die altaar is vir die god Asklepios gebou. Hy was die god van genesing en medisyne. Die simbool van dié god was ‘n slang wat om ‘n paal gedraai is. Hierdie simbool is tot vandag toe die kenteken by mediese instellings.
Die altaar is vermoedelik deur die Grieks-Hellenistiese koning Eumenes ll as monument gebou om sy oorwinning oor die Romeine te vier. Die altaar is nooit voltooi nie. Later jare, toe die Romeine die gebied herower het, is die altaar weer gebruik en is aan die Romeinse gode Zeus en Athena gewy.
Die Griekse mite en die Troon van Satan
Volgens Iranaeus het Johannes sy visioen in ongeveer 95-96 nC aan die einde van keiser Domitianus se bewind gesien. Die boek Openbaring is in ongeveer 96-100 nC geskryf.
Die beeldhouwerk op die altaar beeld ‘n mitologiese stryd tussen die Griekse gode en die Reuse uit. Volgens die Griekse mite was die Reuse ‘n stam wat uit vermengde huwelike tussen bewoners van Ge (Aarde) en Uranus (Hemel) gespruit het. Die Griekse gode kon hierdie wrede en onsterflike Reuse slegs met die hulp van ‘n sterfling verslaan. Herakles (gebore uit die verhouding tussen ‘n menslike moeder en ‘n god) was die sterfling wat tot hulp van die Griekse gode gekom het.
Johannes het iets van sy eie tyd gesien wat hy as die Troon van Satan beskryf het en die inwoners van Pergamum teen gewaarsku het.(Openbaring 2: 12-17). Die Groot Altaar wat op die suidelike hange van die akropolis in Pergamum gestaan het, was die simbool van Zeus en die mag van die Romeinse Ryk. Sommige teologiese verklaarders meen dat hierdie Groot Altaar ook as die Troon van Satan beskryf kan word.
Kwartaalblad
Ons wil graag aan die einde van April ‘n kwartaalblad waarin die gezoem van ons gemeente weerspieël kan word, uitstuur.
Moontlike inhoud:
- ‘n Terugblik en nou vorentoe.
- ‘n Opgedateerde lys van die besonderhede van nuwe lidmate asook lidmate wiese selnommers of adresse verander het.
- Die wyksindelings.
- Verslae van die verskillende groepe en hulle werksaamhede gedurende die kwartaal.
- Ongeveer twee relevante artikels.
- Advertensies waarin gemeentelede produkte, verblyf ens. kan adverteer.
Lewer asseblief insette. Enige veranderings, byvoegings, moontlike sketse of artikels is baie welkom.
Stuur dit na monica@quickspace.co.za
Indien daar gemeentelede is wat graag met hierdie projek behulpsaam wil wees, sal ons dit baie waardeer.
Kontakbesonderhede Gereformeerde Kerk Plett/Knysna:
- Ds Braam van der Walt. braamvdwalt61@gmail.com Sel: 082 779 0354
- Skriba: Corrie Pieterse. corrie@tsitotal.co.za Sel: 082 452 3363
- Voorsitter Finansies: André Korsten. andre@africanaffair.net Sel: 082 782 9626
- Bankbesonderhede: Nedbank. Rekeningnommer: 118 435 3514